Wat 'n voorreg om die kosbare Woord van God
hier in ons pragtige dorp Tsumeb te verkondig. Tsumeb word geassosieer
met minerale rykdom. Mag die Heilige Gees die prediking van die Skrif
gebruik om die (onuitputlike) Woord-Skatte van Waarheid te ontsluit vir
elkeen wat wil luister. So beleef ons die rykdom van God se genade as Hy
aan ons redding uit vrye guns skenk deur vertroue op Jesus. Hiervoor
moet God alleen die eer kry!
Deel in die ryk seëninge uit
God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus
vrymoedigheid om kommentaar te lewer, maar doen dit asseblief altyd op
'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie
geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy
duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike
spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
VOLG op TWITTER by Johannes de Koning @tjdekoning
Friday, April 10, 2015
REDDENDE GELOOF
- laat jou in jou spore omdraai!
Gedurende
die Paastyd het ons die heerlike feite herdenk van die kruis en die
opstanding. Die waarheidsevangelie van Jesus se volkome afgehandelde
versoeningswerk. Jesus het ons sondestraf gedra en as bewys van die
genoegsaamheid daarvan is Hy uit die dood opgewek. Die vraag is net,
raak dit jou persoonlik? Is jy al hierdeur diep in die hart getref? Het
dit al tot persoonlike geloof en bekering gelei?
Nou wonder jy dalk, wat is geloof? Wat is reddende geloof? Daar is mos
‘n algemene idee dat geloof ’n positiewe ingesteldheid is - ek glo dit
sal ’n goeie jaar wees, ek glo ek sal my eksamens deurkom... Dis nie die
Bybelse siening van geloof nie! Mense dra hierdie siening oor na hulle
geestelike lewe - ek glo maar alles sal regkom (en dink dis geloof) Ek
glo ek sal hemel toe gaan - dan dink hulle hulle sal hemel toe gaan. Dis
’n absurde redenasie. (As ek op ‘n verkeerde trein geklim het, kan ek
glo soos ek wil, ek gaan nie by die regte bestemming aanland nie...) Dis
moontlik om vas te glo aan iets wat nie waar is nie, sulke geloof help
mens niks...
So wat is Bybelse geloof dan? Ons kry ‘n besonder prakties en insiggewende voorbeeld daarvan in Johannes 4:43-54.
Dis die merkwaardige verhaal van die regeringsamptenaar wat na Jesus
gekom het om Hom te vra om na sy kindjie te kom wat sterwend was en hom
te genees. Jesus het nie saam met hom gegaan nie, maar wel die volgende
gesê : “Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe!” En wat was die amptenaar se reaksie? GELOOF! "En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.”
(vers 50 OAV) Om te glo is om persoonlik God se woord/belofte te
vertrou. Dié verhaal illustreer dit prakties. Die man weet sy kind is
siek en op sterwe. Jesus sê vir hom : Jou seun lewe! Hy glo dit en draai
om en gaan huis toe! Hy vertrou op Jesus se woord, Hy aanvaar dit as
die waarheid en vra nie verder vra daaroor nie. Geloof is vertroue op
God se belofte, nie op my eie idees of wense nie. (Abram) Geloof is
vertroue op God se belofte ten spyte van die huidige werklikheid en
feite. Die man weet, dis ’n feit dat sy kind sterwend is, maar Jesus sê
hy lewe en hy aanvaar dit as die waarheid. Geloof is om teen al die
sigbare feite God se belofte te aanvaar. Soos Abram volgens Romeine 4:18,19 teen die sigbare, mediese werklikheid God se beloftes geglo het.
Watse beloftes maak God aan ons? Baie, maar die belangrikste is
oor Jesus self en dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. God se
Woord sê : Jesus is die lam van God wat die sondes van die wêreld
wegneem. (Johannes 1:29) Deur sy kruisdood het Jesus jou straf gedra en
dit bring vrede. (Jesaja 53:5,6!) Glo jy dit? Om te glo moet ek die
feite oor Jesus ken, oor sy sterwe en opstanding, maar ook persoonlik
vertrou dat dit ook vir my genoeg was!
BEWEEG SONDER OM TE SIEN
Maar daar kom iets by! Wat doen die man toe hy glo dat sy seun lewe? Hy
draai om en gaan huis toe. Dit wys dat hy regtig glo, sy geloof bring
hom in beweging. As hy nog daar rond gestaan het, vrae en bewyse gevra
het..... dan het ons geweet hy het nie regtig geglo nie. Hy sou miskien
kon sê : “Ek glo,” maar solank hy daar hartseer rondgestaan het sou dit
duidelik wees dat hy nie geglo het nie. Hy sien nog niks, maar hy vat
Jesus op sy woord. Hy glo sy seun lewe en hy gaan huis toe! Geloof bring
reaksie. Dink weer aan Abram. God sê vir hom basies : “Ek gaan vir jou
’n nageslag en ’n land gee. Trek”. Hy glo dit. En hy begin trek.... hy
het nog nie die land nie, het nog nie die seun nie, maar omdat hy God se
belofte glo kom hy in beweging!
God sê vir jou: “My seun het jou straf gedra, deur Hom ontvang jy volle
vergifnis!” As jy dit glo, sal jy Jesus begin volg, jy sal van gedagte
verander (metanoia), omdraai van die ou lewe en Jesus begin gehoorsaam.
Dit noem ons bekering. Bekering volg op geloof. Dit gaan saam soos twee
kante van ’n muntstuk.
Ds. Chris Saayman gebruik die volgende treffende beeld. Sien in u
geestesoog die volgende prentjie: Twee mense is besig om afdraende te
hardloop: reguit hel toe. Weg van God af. Hulle hardloop soontoe, want
hulle het ’n onbetaalbare reusagtige sondeskuld by God. Dit maak ’n MUUR
tussen hulle en God. Maar toe stuur God een van Sy amptenare agter
hulle aan met ’n boodskap. Uiteindelik hardloop die boodskapper hulle in
en uitasem sê hy: “Julle ouens kan maar omdraai, terug na God toe.
Verander van gedagte, want Hy het my gestuur om vir julle te sê dat Hý
deur Jesus al julle skuld betaal het. Hý het alles tussen julle en Hom
reggemaak op Golgota. Draai maar om.” Een van die mans se oë begin blink
en hy glo onmiddelik dit wat die boodskapper sê. En omdat hy glo, steek
hy in spore vas en draai hy om – terug na God toe. Maar, die ander man
lag die boodskapper af – “ Ag, dit is tog absurd – dat God my hemelhoë
skuld kon afskryf en my die hel kon kwytskeld – NOOIT – dis verregaande –
so-iets kán nooit gebeur nie ” – en hy hardloop doelbewus verder – hel
toe... Die vraag is: Waar gaan die tweede man eindig? Antwoord: Dáár
waar hy gekies het om heen te gaan: die ewige verderf. Hoekom? Omdat Hy
God tot leuenaar gemaak het en nie die boodskapper wou glo nie en dáárom
nie omgedraai het nie. Vra dan ook : Waar gaan die eerste man eindig?
Antwoord: Vir ewig by die Here. Waarom? Omdat hy geglo het en omgedraai
het?? Nee – omdat God Sy skuld op die kruis uitgevee het! – en dáárom
kon hy omdraai terug na God toe! Hy draai om OP GROND VAN die INHOUD van
die verbysterend heerlike boodskap van God: “Ek het jou sondes in my
Seun Jesus se vloekdood gestraf en afgeskryf ”. Dit is dus nie sy
OMDRAAI wat hom red nie, maar die inhoud van die boodskap wat hy begin
glo – DIT red hom. Hy red nie homself met sy eie omdraai nie. Maar hy
draai om omdat hy die boodskap hoor (en glo) dat hy gered is deur God se
ontferming!
Gaan jy glo, of gaan jy God tot ‘n leuenaar maak? 1 Johannes 5:9,10 “As
ons die getuienis van die mense aanneem--die getuienis van God is
groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun
getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself.
Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die
getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.”
Hoekom nie God glo nie? Hoekom sou Hy vir ons lieg?
Glo jy die evangelie of het jy dit maar nog net gehoor? Het dit jou al
laat omdraai, weg van die ou lewe of is jy dalk (binne die kerk)
volspoed op pad na die ewige verderf?
Monday, April 6, 2015
LAASTE BEKER KOFFIE OP ONKOSHI
Sommer so onverwags is 'n stukkie geskiedenis vanoggend vir my verder ingekleur...
Verlede
naweek is een van die baanbrekers van die Tsumeb omgewing, tannie
Sientjie Fourie oorlede. Ek het haar nie geken nie, maar haar dogter
tannie Matie Stehle is ons skriba. Die Fourie gesin was pioniers wat op
die plaas Ruimte (naby die Etosha wildtuin) vanaf 1947 geboer het en was
baie betrokke by die kerk en gemeenskap. Hulle het ook op 'n ander
hartseer manier deel van die omgewing se geskiedenis geword toe
Sientjie se man, Louis Fourie in 1982 deur terroriste op sy plaas
vermoor is. Tannie Sientjie het heldestatus verwerf toe sy deur haar
dapper optrede 'n groter ramp voorkom het. Deur aanhoudend op die
aanvallers te skiet het sy verhoed dat hulle oor die veiligheidsheining
rondom die opstal geklim het... Dit was rowwe dae van pyn, hartseer,
lewensverlies... Hierdie Tsumeb, Grootfontein en Otavi omgewing was nie
verniet bekend as die Driehoek van die Dood nie.
Vanoggend
praat ek met tannie Babsie du Plessis wat my huis hier op Tsumeb huur.
Sy vertel toe dat wyle Louis Fourie sy laaste beker koffie by hulle op
die plaas gedrink het. Hulle het op die plaas Onkoshi geboer. Toe hulle
die skokkende nuus van Louis se dood kry, het die beker nog op die tafel
gestaan... Dit het die hele saak net nog meer hartseer gemaak.
Mag
ons wat nie eers wat binne die volgende minute gaan gebeur nie, voluit
lewe vir God en ons naaste... die beker koffie wat jy vandag vir iemand
inskink kan dalk 'n laaste liefdesdaad aan daardie persoon wees!
Thursday, April 2, 2015
GOEIE VRYDAG EN ‘N GOEIE GEWETE
Om God te dien en te bewonder, te geniet en te aanbid is die sin en doel van ons bestaan.
Slegs as ek met hierdie doel besig is, vind ek vreugde en vervulling as
mens. Om God te dien beteken nie net om kerk by te woon of te sing nie -
dis ’n totale lewensbeskouing en lewenswyse! Dis : om alles wat ek doen
vir die Here te doen, alles wat ek geniet uit dankbaarheid uit sy hand
te ontvang. Hy is die Gewer van alle goeie gawes! Noem maar op!
ONRUSTIGE GEWETE
Ek kan God net dien, ek kan alles wat HY my gee net geniet as ek ’n skoon gewete het. As ek skuldig voel voor God of as ek bang voel kan ek Hom nie met vreugde dien nie.
Solank my gewete my hinder, het ek geen vreugde en geen vrymoedigheid
voor God nie. Dink aan ’n kind wat iets verkeerd gedoen het by die huis
en weet daar wag ‘n pak slae, maar nou gaan speel hy eers ’n
rugbywedstryd - sy gewete pla hom, vrees knaag aan hom en hy kan nie sy
beste lewer nie, nog minder ten volle geniet wat hy doen. Ons probleem
kom by die feit dat ek ’n heilige God dien, ’n alwetende God, ’n
lewende God, maar dat ekself ten diepste onheilig en onrein is. Nou is
daar onrus in ons harte, onrus wat ons hinder om God te dien, onrus wat
ons onseker en bang maak vir die dood en oordeel.
Hoe kan my gewete tot rus kom, hoe kan ek vrede ervaar?
Almal se gewetens pla hulle nie. Sommiges se gewetens is immers baie stukkend en oneffektief. As die Heilige Gees egter in iemand begin werk, is die eerste gevolg daarvan ‘n ontwaakte gewete! ‘n Gewete wat sensitief begin raak vir sonde en my skuld voor God en medemens.
Die mens met ‘n ontwaakte gewete probeer gewoonlik baie planne maak om
hierdie onrustige gewete stil te maak : Ek probeer my onrus net
wegsteek, probeer dit vergeet, probeer die stil stemmetjie uitdoof deur
allerhande aktiwiteite (selfs kerklike aktiwiteite!), ek probeer myself
verbeter deur vroom pogings om godsdienstig te word, in desperaatheid
kan ek my wend tot gedurige en nimmereindigende sondebelydenisse – maar ook dit kan nie volkome rus bring nie, want die vraag bly : het ek als bely, opreg genoeg bely?
Al ons pogings om self ’n plan vir ons sonde skande en skuldige
gewete te maak is – mislukking. Dis soos Adam en Eva se vyeblare, totaal
ondoeltreffend.
GOD SE OPLOSSING
Die Woord van God gee ons egter die antwoord. In Hebreërs 9:13,14 word hierdie saak direk aangespreek. “Want
as die bloed van stiere en bokke en die as van 'n vers wat die
verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,
hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige
Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie
werke om die lewende God te dien.” Die bloed van Jesus reinig ons gewetens! Anders gesê, die offer, die sterwe van Jesus aan die kruis bring rus vir my gewete!
Hoe gebeur dit prakties? Daar is ‘n paar dinge nodig voordat die sterwe van Jesus persoonlik vir my gewetensrus kan bring. Ek moet:
1. besef – MY SONDE is die probleem - dis die rede vir my onrus
en nie my opvoeding, my omgewing, of ander mense nie. Moenie
versagtende woorde gebruik om sonde te beskryf nie. Noem dit wat God dit
noem – nie ‘n paar foutjies nie, maar SONDE!
2. die feite en betekenis van Jesus se kruisdood ken. Wat het
daar gebeur? Ek moet weet dis ’n stuk geskiedenis, dit het voor almal se
oë gebeur. Die Seun van God is doodgemartel aan ’n kruis, onskuldig ter
wille van my en as straf op my sondeskuld. Jesaja 53:5,6 beskryf die betekenis die duidelikste. “Oor
óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die
straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar
vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het
elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom
laat afkom.” Die straf wat Jesus gevat het bring rus. Ek weet nou,
my sonde is erg ja, maar dis klaar gestraf en God sal nie eis dat dit
weer gestraf word nie! Hierdie wete bring vrede en rus in my hart. “U
versoenend sterwe is die ruspunt van my hart!”
3. oortuig wees van die genoegsaamheid van die kruisboete van Jesus.
Jesus se straf was genoeg; ek hoef niks by te voeg nie. (Dink aan ‘n
baie groot verkeersboete. Dit pla my, ek rol slapeloos rond in die
nagte. Dan kom ‘n goeie welaf vriend en vat daardie kaartjie en gaan
betaal dit. Hy bring vir my net die kwitansie... Dit bring rus in my
gemoed, want ek weet my skuld is betaal!) Ten spyte van baie
mislukkings, baie aaklige sondes, baie sondes met onherroeplike gevolge,
baie verswarende omstandighede, kan ek seker weet Jesus se sterwe was
genoegsame betaling. Dit was genoeg vir Petrus - wat vooraf gewaarsku
is, genoeg vir Paulus – wat doelbewus Christene probeer uitroei het!
Jesus het vir sondaars gesterf, werklike sondaars, ja ook vir
Godslasteraars, huweliksopbrekers, plaasmoordenaars, verkragters,
molesteerders, ja ook vir skynheilige godsdienstiges.... Dink mooi, kan
daar ’n sonde wees wat swaarder weeg as die bloed van God se eie Seun? Kan daar ooit ‘n groter offer wees as die bloed van die onskuldige Lam van God?
4. in geloof aanvaar dit was ook vir my! Vervang die “óns” Jesaja
53:5,6 met jou eie naam en lees dit oor en oor! Wat verbind Jesus se
offer aan my persoonlik? Die hele Skrif maak dit duidelik : Geloof -
dis waar, dis waar vir my en daarom gaan ek die Here daarvoor dank!
Jesus se genoegsame sterwe, ja sy bloed bring rus vir my onstuimige en gekweste gewete.
Eers dan kan ek God met vreugde dien – “in ruimte deur sy kruis voorsien” soos die pragtige Lied 396 dit stel.
My gewete maak my benoud, skuldgevoelens druk my vas, maar die vaste
feite van die kruis gee weer vir my ruimte. Ek kan God eers begin dien
as ek die Gekruisigde omhels het. Alle diens aan God sonder die kruis as
basis is nutteloos en verwerplik. Dis maar net eie geregtigheid! As die
kruis jou nie motiveer om anders te lewe nie, help al jou heiligheid
en goeie dade niks!
Sleutelwoorde:
Gewete,
Goeie Vrydag,
Ontwaakte gewete,
Skuldgevoelens
Wednesday, April 1, 2015
RAAD WAT NIEMAND WIL HOOR NIE
- STERWE : die koninkryksgeheim vir vrugbaarheid.
Sterwe om te kan lewe! Jesus se woorde in Johannes 12:24,25 is moontlik van sy ongewildste uitsprake vir mense in ons dag, maar dis die oplossing vir ‘n sukkelende kerk!
“Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en
sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie
wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”
“As die koringkorrel nie sterwe nie...” Geweldige woorde! Ingrypend
radikaal! Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat elkeen
van sy hoorders goed sou verstaan. ’n Koringkorrel (of mieliepit) moet
in ’n sekere sin sterwe sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy huidige
bestaan, identiteit en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word
en ophou voortbestaan as pit. As die pit by wyse van spreke sou weier,
dan sou niks positief gebeur nie. Dit bly dan net alleen, daar’s geen
oes nie en die pit mis sy bestaansdoel.
Jesus praat natuurlik in die eerste plek hier van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis.
(dis kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n
ryk oes op van verloste mense. As Jesus nie gesterwe het nie, sou ons
nie verlos kon word nie en daar sou geen oes van verlostes gewees het
nie. Ons moet goed verstaan - Jesus het baie wonderlike dinge gedoen...
preke, genesings, wonders.... maar nie een van hierdie dinge kon
verlossing bewerk nie, Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons
plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te
hou... (hy het op 'n stadium selfs vir Petrus ingespan - Matteus
16:21-23)
Jesus moes sterwe! Sonder sy sterwe kon
daar geen oes wees tot eer van die Vader nie! Jesus het om ons te red
doelbewus ’n lewe van vernedering en lyding gekies wat uitgeloop het op
die kruis.
EN ONS?
Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe maak Jesus van
toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n
aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding verdien nie vir ons die
lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan
doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die
slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange.
Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat
Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie
volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.
Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen groei, geen sterwe geen oes!
En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap
vrugteloos,vaal en vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self
en sy werk geld as ’n basiese vereiste vir volgelingskap. Maar dis OOK
die SLEUTEL tot vrugbare getuienis en sendingwerk.
Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen
suksesvolle uitdra van die evangelie wees nie! Sonder n keuse vir lyding
kan jy nie vir die Here werk nie - ook nie by die huis, werk, in die
gemeente of verre sendingveld nie.
Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig.
In Getsemane het Hy homself finaal bereid verklaar vir hierdie pad. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie. Ons lyding is ’n voortsetting van sy lyding. Dit is soos Paulus sy lyding verstaan het. “Ek
is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur,
want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my
deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,waarvan ek ‘n dienaar
geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle
aan julle bekend te maak." (Kolossense 1:24,25) Paulus het
lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om
sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was
’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose
bestaan gevoer het as Christen. Maar nee, hy kies om die pad van
vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die
beginsel van die koringkorrel prakties toe. “Vir hierdie evangelie
ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van
God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die
uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus
Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang." (2 Timoteus 2:9-10)
God het besluit om sy
uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat
die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word.
Evangelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. John Piper stel dit so : More
and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions
that God's design for the evangelization of the world and the
consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and
missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that
the suffering of his ministers and missionaries is one essential means
in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of
the world.
Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie behels gewoonlik
‘n doelbewuste keuse Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy
Woord moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf.
Wat sou dit prakties beteken? Wat moet ek opoffer sodat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe?
(hier is nou nie malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter
wille van evangelie?) Kom ons kyk na drie praktiese areas.
Sterwe aan, doen afstand van:
~Aansprake op die veiligheid van my gemaksone, my gerief en eie belang.
Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende
mense, bekende aksies, bekende omgewings... Die uitdaging is: Sterf vir
jou gemaksone en gaan sit langs ’n plaaswerker of 'n straatkind...steek
grense oor, praat met iemand van ‘n ander kultuur of sienings... Wees
bereid om my eie voorkeure prys te gee, te kies teen eie belang in terme
van tyd en geld. Om die evangelie uit te dra, sal ek dalk tyd opsy moet
sit wat ek andersins tot my eie voordeel sou kon gebruik het. Hierdie
opofferings is malligheid in die oë van die wêreld, maar ook in die oë
van die meeste kerkmense. Maar dis presies wat dit God se kinders gekos
het om die evangelie oor die wêreld heen uit te dra – hulle het
winsgewende en aanloklike loopbane vaarwel geroep, familie en vriende
verlaat, hulle kinders aan malariamuskiete blootgestel... (Dink aan
talle voorbeelde : Martin Rautanen, CT Studd, Adoniram Judson, David Brainard, AA Louw...)
Maar dit gaan nie net oor sulke opvallende groot sake nie - Om werklik
die Koninkryk van God te laat kom moet ek dikwels doelbewus teen my eie
welsyn, regte en gerief kies ook wat klein dingetjies betref. Baie mense
is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by die uitbreiding van die
Koninkryk, hulle wil nie hulle hande vuilmaak nie. Tevrede om op ’n
veilige afstand ’n tjek uitskryf wat hulle nie eens regtig voel nie.
~Kulturele ekslusiwiteit. Dis nodig om ons trots in ons sak te
steek en in nederigheid grense oor te steek na ander mense en kulture
wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet bereid wees
om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan,
opofferings te maak om hulle te akkommodeer. Opofferings ten opsigte van
byvoorbeeld taal, kleredrag, eet voorkeure... Ons moet geduldig
gewoontes en gebruike wat vir ons onaanvaarbaar is verdra. Gewillig om
kulturele opofferings en aanpassings te maak. Weet U dis presies wat
Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee en een van ons
geword! (Vergelyk Filippense 2) As ons die evangelie wil deel moet ons
diensknegte word wat van ons troontjies afklim. (Daar is geen plek vir die Amerikaanse "back in the States" houding nie!) Dis presies wat Jesus gedoen het .... Hy het nie gekom om “gedien te word nie, maar om te dien..” (Markus 10:45)
~Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Laat
vaar daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die begeerte
wat ons het om bedank en waardeer te word. As ons werklik die evangelie
wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat
aan God al die eer sal gee. Om agter die skerms te werk, om weggesteek
te wees. Wees bereid om ongewild te wees en deur ander van valse
motiewe beskuldig te word. Mense gaan nie van jou hou as jy vir die
beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om veragting en spot te
verduur? Bereid om onbelangrik te wees? Satan het Jesus versoek op
hierdie punt... Hy wou Jesus op ‘n pad van sukses en belangrikheid laat
afdwaal. (“Spring van die tempel se dak af” Dit sou Jesus baie gewild
laat word het, almal sou Hom ge “cheer” het...) Maar Jesus kies die pad
van die kruis. Sukses en erkenning mag nooit ons dryfkrag en motief wees
nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons
nooit sigbare suksesse nie. Ons begeerte om bedank te word en erkenning
te kry, moet ons afsterf. Wees eerder gereed vir teleurstellings en
beledigings. Vriend, en weet maar, as jy vir die Here wil werk gaan jy
getoets word. Die skoolkinders of plaaswerkers met wie jy die evangelie
deel, juis hulle gaan jou dalk skade aandoen, of ondankbaar wees – en
dan? Sal jy nog volhard in jou getuienis?
Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in
vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan
uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen
vreugde!
Twee slotopmerkings:
~Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie?
Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees?
Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is
bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min
mense is bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas. John Stott verklaar : The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die.
~ Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg is en nou sê :”Ek wil
graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, ek
sal maar eers wag tot ek dit regkry.” Vriende net Jesus se sterwe was
volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses. Dis ’n proses
wat lewenslank duur. Solank as wat jy lewe sal die kind van God
agterkom - hier is nog ‘n soeke na selfbelang en eie eer wat in my pad
staan. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin
uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself maar net tot
beskikking van Jesus, die Heilige Gees is getrou en sal jou wys waar jy
moet sterwe. Dis ‘n lang en moeisame (maar avontuurlike) pad. Begin
net, vandag...
Ek het nog skaars begin leer loop op hierdie pad, mag Hy my genade tot bereidheid daarvoor skenk...
Groen koring in Namakwaland
Sleutelwoorde:
Back in the States...,
Koringkorrel,
Sending,
Sendingbetrokkenheid,
Sterwe,
Vrugdra
Monday, March 30, 2015
ONDER NUWE BEHEER EN INVLOED
- sleutel vir ‘n gelukkige en Godverheerlikende huwelik.
Hier in EFESIËRS 5:22-33* word radikale dinge gesê, soveel so dat die moderne mens in opstand kom daarteen! Van die vrou word immers geëis - Absolute onderdanigheid! (SOOS die gemeente aan Christus onderdanig is!) En van die man? Absolute selfopofferende liefde! (SOOS
Christus die gemeente liefgehad en sy LEWE vir hulle opgeoffer het!)
Terloops, beide opdragte is dus uiters radikaal en moeilik, nie net die
één aan die vrou nie! Die hedendaagse mens is vol besware teen hierdie
Skrifgedeelte : “Nee, dis darem te erg, dis outyds, dit kom uit ‘n
patriargale tyd, ons kan dit nie meer aanvaar nie...” Wel vriende,
hierdie is God se opdragte, vat dit of los dit... ek wil nie met jou
daaroor stry nie. Die Christen neem dit wel ernstig op omdat dit God se
Woord is. Die vraag waaroor die Christen wel besin is : Is hierdie
opdragte realisties moontlik?
Nou
as beide man en vrou aan hulle onderskeie opdragte gehoorsaam sou wees,
dan word dit natuurlik ook vir beide makliker en ‘n groot plesier om
dit te gehoorsaam. Dink net bietjie... Hoe meer lojaal en onderdanig
die vrou is, hoe makliker en lekkerder is dit vir die man om sy vrou met
opoffering en toewyding lief te hê. Hoe meer radikaal die man sy vrou
lief het met opoffering en selfverloëning, hoe makliker en lekkerder is
dit vir die vrou om haar man onderdanig te wees... Maar nou weet ons in ons stukkende wêreld werk dit nie so nie.
In die praktyk kry ons dit daagliks, dat ‘n vrou sê : “Ek sukkel, ja ek
weier om my man te respekteer , want hy gedra hom soos ‘n vark, hy het
my nie lief nie...laat hy eers bietjie regkom dan kan ons weer praat...”
En die man : “Ek sukkel, ja ek weier om my vrou lief te hê en vir haar
enigsins opofferings te maak, want sy het geen respek vir my nie en wil
altyd baasspeel... as sy eers geleer het wat respek is, wel dan sal ek
weer probeer...” Doodloopstraat...
Hoe
nou? Gaan ons enigsins dit kan regkry om by hierdie Goddelike standaard
van die huwelik uit te kom of is dit maar net mooi ideale?
DIE GOUE SLEUTEL
Die sleutel tot al die opdragte in Efesiërs 5 (ook aan ouers en kinders en werkgewers en werknemers) kry ons in Efesiërs 5:18. “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,”
Dronkenskap word teenoor Geesvervuldheid gestel. Dit
gaan duidelik nie hier in die eerste plek oor ‘n preek teen dronkenskap
nie (hoewel dit ook van tyd tot tyd nodig is...) , maar oor ‘n beginsel
wat Paulus stel. Wat bedoel hy? Kom ons bedink die saak ‘n bietjie...
‘n dronk mens tree anders as normaalweg op omdat hy onder die invloed en
beheer van alkohol is. Hy is onder ‘n groter en sterker invloed, ‘n
groter krag as homself. (Jy sien dit mos in sy oë – hierdie ou is nie
meer in beheer van homself nie... hy is onder beheer van die alkohol en
eintlik onder beheer van die duiwel...) Deur hierdie kontras wil Paulus
sê dat die Christen nooit onder beheer van alkohol moet wees nie, maar
onder die beheer van die Heilige Gees. Soos die dronk persoon se
gedrag verander word deur alkohol, moet die Christen se gedrag nou
bepaal word deur ‘n ander heerlike heilige invloed, naamlik die Heilige
Gees van God wat in ons woon!
En belangrik, die Heilige Gees doen die teenoorgestelde as alkohol.
Alkohol breek af en maak stukkend – nie net glase, borde en motors nie,
maar veral verhoudings! Die Heilige Gees maak heel, mense verhoudings
word herstel en vrede keer terug. Alkoholmisbruik het losbandigheid,
roekeloosheid, onsedelikheid en ontrouheid tot gevolg. Waar die Heilige
Gees in beheer is, is daar soberheid, rustigheid, reinheid,
getrouheid...
Hoe gaan ons dit dus regkry om God se opdragte oor die huwelik te gehoorsaam? Deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon.
Hy is ‘n werklikheid, ‘n Goddelike Persoon, deel van die Drie-eenheid.
Daar is Iemand in die kind van God wat nie in ander mense is nie, en HY
maak die verskil! Maar dit beteken nooit dat die Christen nou passief agteroor kan sit nie.
Ons moet ons daagliks doelbewus aan die leiding van die Heilige Gees
onderwerp, wat reeds in my woon!. (Ons het immers hier met ‘n opdrag in
vers 18 te make) ‘n Voortdurende wilsbesluit! Kies om onder die invloed
van die Gees te wees! Dit beteken dat ons sal buig voor die opdragte in God se Woord, al gaan dit teen ons eie gevoelens in. Dit
beteken prakties eintlik dat ons aan Jesus onderdanig sal wees en sy
wense sal uitvoer, want die Heilige Gees is die Gees van Christus.
“Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” (21) Dit beteken
dat ek teen myself kies en kies om Jesus te gehoorsaam, want ek
respekteer Hom. My eerbied vir Jesus moet vir my swaarder weeg en meer
tel as my persoonlike gevoelens van verontregting of vergelding. Daarom respekteer ek my huweliksmaat en medemens ter wille van my respek vir Jesus!
Prakties
sal dit beteken dat die vrou onder beheer van die Gees sal redeneer :
“Ja, my man was vandag lelik met my, maar ek kies steeds om hom te
respekteer, omdat dit is wat Jesus van my verwag!” Die man onder beheer
van die Gees sal redeneer :”Ja, my vrou het my vandag nie gerespekteer
nie, maar ek kies steeds om haar lief te hê, (prakties liefde te bewys),
want dit is wat die Here Jesus van my verwag.”
Ten slotte:
Hierdie opdragte bots teen ons sondige natuur en hardkoppige eiesinnigheid.
Ons gaan dit nie sommer vanself en outomaties regkry nie – om sommer
net ‘n huwelikskursus of berading te ondergaan gaan ook nie sukses
waarborg nie.
Hierdie opdragte is net moontlik wanneer ons gehoorsaam onder die beheer van die Heilige Gees staan. Dis net wedergebore mense wat die Gees het, so hierdie opdragte is net moontlik vir mense wat waarlik Jesus as Verlosser leer ken het. Sonder Jesus as my Verlosser gaan ek misluk, al is ek dalk ‘n goeie kerkmens...
Al is ek ‘n kind van God, vereis hierdie opdragte ‘n daaglikse onderwerping aan die stem van die Heilige Gees wat in my woon.
Ek moet nie dink ek gaan sommer as Christen altyd outomaties reg optree
teenoor my man of vrou nie. Dis ‘n voortdurende keuse om my onder
beheer van die Gees te stel, wat in praktyk beteken ‘n keuse om God se Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe verontreg of opstandig ek voel nie!
ONDER WIE SE BEHEER IS JY?
*21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
23
Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk
is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.
24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,
27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,
29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen
30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
31 Daar staan in die Skrif: "Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees."
32 Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.
33
Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê
soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.
Thursday, March 26, 2015
RHODES MUST FALL
- ‘n wekroep wat rooi ligte en dinamietkerse laat flikker!
As
Afrikaner het ek beslis geen voorliefde vir en simpatie met Cecil John
Rhodes nie. Hy was ‘n uiterste voorbeeld van ‘n politieke knoeier (dink
Jameson inval) en kampvegter vir Britse imperialisme. Dis onder hierdie
einste imperialisme wat my volk gely en byna doodgebloei het weens die
uitwissing van duisende vroue en kinders tydens die Anglo Boereoorlog.
En tog, beide as Afrikaner en Christen voel ek geroepe om te waarsku
teen die onverantwoordelike oproepe om die Rhodes standbeeld (en ander
soortgelykes) te laat kantel. Die beeld van opgesweepte skares wat
standbeelde vernietig herinner aan gewelddadige rewolusies wat tot
eindelose smart, chaos, verwoesting en haat gelei het. In ‘n
multikulturele en etnies diverse Suidelike – Afrika kan sulke
onnadenkende optrede tot uiterste spanning en voortdurende konflik
aanleiding gee. En sulke chaotiese politieke en ekonomiese duisternis
kan veral ons buurland suid van die Oranje beslis nie bekostig nie!
(Eskom sorg reeds vir te veel daarvan...)
Om standbeelde te begin afbreek, skep 'n gevaarlike irrasionele klimaat
en teelaarde vir anargie. Dit stuur af op ‘n situasie waar daar nie
meer nugter gedink en beredeneer word nie, en baie saamgesleep word op
‘n wilde tog van emosionele aktivisme. ‘n Opruiendheid wat menslike
dinamiet genereer, wat iewers gaan ontplof... En waar hou jy op as jy
eers begin afbreek? Wie moet val en wie gaan bly staan? Wie gaan regter
wees? Ja, Rhodes was ‘n imperialis en onderdrukker, ongetwyfeld. Maar
wat van Shaka? Of sommiges dit wil hoor of nie, hy was ‘n geweldenaar
wie se optrede die uitwissing van baie stamme tot gevolg gehad het. En
ja tog, selfs by beide Rhodes en Shaka kan mens ook baie leer...
entrepreneurskap, deursettingsvermoë, strategiese denke...
Nee, kom ons los en respekteer bestaande monumente (straatname,
skoolname, dorpsname...) as deel van die geskiedenis. Al is dit nie ‘n
geskiedenis wat almal ewe opgewonde maak nie. Kom ons gun dit ook vir
mense wat anders voel as ons om nuwes op te rig. Laat ons rustig
debatteer oor mense soos Rhodes en Shaka of wie ook al se rol in die
geskiedenis. Om standbeelde af te breek gaan nie die foute en onregte
waaraan hulle deel gehad het weer regmaak nie. Stukkende standbeelde skep nie welvaart en sakevertroue nie... nog minder versoening en vreedsame naasbestaan. Dis
maklik (en benodig nie veel breinkrag nie) om monumente om te gooi en
name te verander, maar dit gaan nie werksgeleenthede skep of 'n
broodnodige positiewe beleggingsklimaat bevorder nie. Studies,
harde werk, integriteit en innoverende denke gaan eerder ‘n land opbou
en nuwe geleenthede skep vir almal... Of die betogende en morsende
studente wat Rhodes se kop tans eis, hierdie eienskappe vertoon,
betwyfel ek...
Nee, wat ouens los die nonsens en keer terug na die boeke en probeer liewers vir julleself 'n werksetiek aanleer... hiervoor sou julle selfs ou Cecil as voorbeeld kon gebruik en dalkies sien julle ook raak dat daar nog baie onontginde diamante in die Afrika bodem wag... vir die wat bereid is om te werk!
Nee, wat ouens los die nonsens en keer terug na die boeke en probeer liewers vir julleself 'n werksetiek aanleer... hiervoor sou julle selfs ou Cecil as voorbeeld kon gebruik en dalkies sien julle ook raak dat daar nog baie onontginde diamante in die Afrika bodem wag... vir die wat bereid is om te werk!
Sleutelwoorde:
Anglo-Boere Oorlog,
Rhodes,
Standbeelde,
Versoening,
Werksetiek
Thursday, March 19, 2015
ENIGSTE WARE VERLOSSER?
- hoe kan ek weet en glo dis Jesus?
Het
die twyfel jou al beetgepak en jou laat wonder? Vrae soos : Hoe kan ek
seker weet dat Jesus die enigste ware Verlosser is? Is alle godsdienste
nie dalk maar min of meer waar nie? Ja, die Bybel sê duidelik dat Jesus
die enigste Middelaar is (1 Timoteus 2:5), maar hoe weet ek dat die
Bybel waar is? Is die evangelies nie maar net legendes of ’n klomp
gekookte stories nie? Hoe kan ek eerlike en duidelike antwoorde op
hierdie vrae kry?
‘n Goeie plek om te begin is die opstanding van Jesus. As Jesus
waarlik uit die dood opgestaan het, kan ons Hom oor alles glo (oor
verlossing, oordeel, hemel, hel...), maar as Hy nie opgestaan het nie,
is Hy maar net nog ‘n mens, net nog ‘n profeet soos baie ander voor en
na Hom.
Een duidelike bewys vir die opstanding is dat die dissipels eers self getwyfel het. (Matt 28:17) Hierdie
dissipels wat Jesus sien sterf het was later egter so oortuig van die
opstanding dat hulle bereid was om te sterf ter wille van hierdie feit.
Nou, geen mens sal ‘n leuen uitdink doelbewus om jouself in gevaar te
bring nie. Nee, mense dink leuens uit juis om hulleself te beskerm! As
die dissipels self Jesus se liggaam gesteel het (soos sommige beweer) of
geweet het sy lyk is nog in die graf, sou hulle mos nie moed gehad het
om te sterf vir iets wat hulleself geweet het nie waar is nie.
‘n Ander indirekte bewys van die egtheid van die opstandingsverhale
is juis die verskille tussen die opstandingsberigte in die vier
evangelies. As alles een mooi storie was sou mens kon vermoed dat
dit ‘n uitgedinkte verhaal is, maar nou is daar soveel verskille en
unieke beklemtonings dat dit inpas by ‘n uitsonderlike buitengewone
gebeurtenis soos iemand wat uit die dood opstaan. Opmerklik ook is die feit dat die eerste getuies van die opstanding vroue was.
Nou dit sou juis ’n hindernis wees in die oë van eerste eeuse lesers,
want vroue is nie as betroubare getuies geag nie. So die enigste rede
waarom vroue as getuies genoem word, was omdat dit werklik so gebeur
het.
Party mense word egter nie maklik oortuig nie. Hulle sal sê, ja alles
goed en wel, maar is die evangelies nie maar legendes of mooi
uitgedinkte stories nie? Wie die evangelies noukeurig bestudeer sal gou agterkom dat hulle nie legendes is nie. Waarom? 1) Hulle ontstaansdatums is te na aan die gebeure wat hulle beskryf om legendes te wees. Indien
dit onwaarhede sou bevat sou daar baie lewende persone wees wat die
evangelies in diskrediet sou kon bring. In die Markus evangelie
byvoorbeeld, vind ons sekere persone se name soos in die verwysing na
Simon van Sirene waar spesifiek gemeld word dat hy die pa was van
“Aleksander en Rufus”. (Markus 15:21) Hierdie moes bekende persone in
die oorspronklike leser teikengroep gewees het. Enigiemand sou hulle
kon uitvra oor die waarheid aan die gebeure. Dis ‘n duidelike bewys dat
ons hier met kontroleerbare historiese beriggewing te make het. Paulus
se briewe is nog vroeër geskryf as die evangelies en dit ondersteun ook
die evangelies.
2) Die inhoud van die evangelies is heeltemal te teenproduktief om gekookte stories te wees.
Dink aan die lafhartigheid van die dissipels en by name die
leiersfiguur Petrus (sy gruwelike verloëning van die Here) wat so
duidelik en eerlik beskryf word. Dit sou vir enige beweging ’n groot
verleentheid gewees het. Niemand sou so iets uitgedink het as dit nie
regtig gebeur het nie.
Lees maar net die Nuwe Testament met ‘n oop gemoed en jy sal die egtheid, eerlikheid en nugterheid self aanvoel.
Die evangelieverhale het geen voordeel vir die eerste dissipels ingehou
nie, net nadele soos verwerping, vervolging en die dood. Waarom sou
mens iets uitdink wat vir jou net ellende besorg? Waarom sou mens iets
uitdink wat jou eie swakheid en ongeloof te beklemtoon as jy dan die
stigters sou wou wees van ‘n mensgemaakte godsdiens?
Daar is nog ‘n groot rede om te glo. Die evangelie is so uniek en anders as enige mensgemaakte godsdiens.
Ons het hier te make met ‘n unieke vorm van almag. God is so almagtig
dat Hy Homself in Jesus swak maak. Jesus word verwerp, mishandel en
gekruisig. Dis alles tekens van swakheid. Dis so anders as die wêreld se
dapper helde en gode en profete. Maar Juis in sy swakheid kom sy almag
na vore as Hy deur sy kruisdood en opstanding die houvas van die duiwel
oor ons breek. Die evangelie is ook so anders as alle ander godsdienste
wat eintlik maar net ‘n klomp opdragte bevat van wat die mens moet doen.
Die evangelie gaan oor wat Jesus gedoen het vir en namens ons. Die
godsdienste van die wêreld gaan oor : Doen, doen, doen.... Die
evangelie van Jesus sê : Dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen....
In Jesus se eie woorde : “Dis volbring!” Hoe meer mens die goeie nuus
van die evangelie hoor, hoe meer besef jy dit is onmoontlik nie deur ‘n
mens uitgedink nie.
BONATUURLIKE GODDELIKE OPENBARING
Kom ons gaan weer terug na die oorspronklike vraag. Hoe weet ek dat
Jesus die Seun van God en die ware Verlosser is? Daar is baie logiese
redes (waarna ons nou gekyk het) maar hier in Matteus 16 kry ons die groot rede. Petrus kom tot ‘n heerlike erkenning en insig as hy bely : “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Nadat Petrus hierdie aangrypende belydenis gemaak het dan antwoord Jesus hom... "Gelukkig
is jy, Simon Barjona," het Jesus vir hom gesê, "want dit is nie ‘n mens
wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”
(17) Dis ‘n eggo van Jesus se woorde in 11:25. “Daardie
tyd het Jesus gesê: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U
hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan
eenvoudiges bekend gemaak het.” Petrus het nie hierdie insig aan "vlees en bloed" sy eie familie of volk te danke nie - inteendeel! Sy
insig en sy geloof is ‘n gawe van God. Dis ‘n bonatuurlike openbaring
van God wat jou oë open vir Jesus, die Lig van die wêreld! As Hy dit vir jou gedoen het, dank Hom daarvoor, dis net genade!
Wat van jou? Glo jy al? Wonder jy of God Homself ook aan jou wil
openbaar? Dis insiggewend en bemoedigend, net na Jesus se stelling in
Matteus 11:25 waarna hierbo verwys word, rig Hy ‘n direkte en ope uitnodiging aan almal... ook aan JOU! “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28)
God laat die lig vir jou opgaan sodat jy kan sien wie sy Seun is en in Hom kan glo...
God laat die lig vir jou opgaan sodat jy kan sien wie sy Seun is en in Hom kan glo...
Friday, March 13, 2015
NOORD KAAP GEE REDES
Die Noord Kaapse sinode van die NG Kerk het duidelike redes gegee in 'n
herderlike brief waarom die voorgestelde verandering aan Artikel 1 van
die Kerkorde (wat voorsiening vir Belhar as opsionele belydenisskrif sou
maak) verwerp is.
Hier is 'n uittreksel uit hulle herderlike brief:
Die
sinode het – sonder om hom uit te spreek oor die aard of die inhoud van
die Belharbelydenis - die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die
Kerkorde, onder andere, om die volgende redes nie goedgekeur nie:
1. Die voorgestelde kompromisvoorstel poog om mense tevrede te stel eerder as om aan die Skrif getrou te wil wees.
2. Die voorgestelde wysiging voer leervryheid in die Kerk se orde in, in
stryd met die Skrif en die Drie Formuliere van Enigheid, omdat dit die
keuse laat om ’n belydenisskrif te aanvaar of nie te aanvaar nie. Die
implikasie is dat dit dan ook noodwendigerwys van die ander
belydenisskrifte móét geld en/of dat nog belydenisskrifte – volgens die
begeerte van lidmate – tot die belydenisgrondslag van die kerk toegevoeg
kan/mag/moet word.
3. Daarby stel dit die kerk op die sogenaamde quatenus-standpunt, in
plaas van die gereformeerde quia-standpunt. Eersgenoemde is meermale in
die geskiedenis baie sterk deur die kerk afgewys. Die Ned. Geref. Kerk
in Noord-Kaapland aanvaar die belydenisskrifte omdat dit in
ooreenstemming is met die Skrif, nie insoverre of indien dit (volgens
die oordeel/willekeur van lidmate) in ooreenstemming met die Skrif is
nie.
4. Die voorgestelde wysiging is in stryd met die Ned. Geref. Kerk se belydenisgrondslag en die Skrif.
Sleutelwoorde:
Belhar,
Herderlike brief,
Noord Kaap sinode,
Quia standpunt
HEEL WORD IN GOD SE HUISGESIN
- waar die genade van God ons verander en herstel.
Ons
bly in ‘n stukkende wêreld met stukkende mense. Die plek waar hierdie
gebrokenheid die duidelikste gesien word is binne huwelike en
huisgesinne. Tussen man en vrou, ouers en kinders.... Reg van die begin
af kon die verwoestingswerk van sonde die duidelikste in mensverhoudinge
binne gesins en familieverband gesien word. Die heel eerste gesin
beleef ‘n broedermoord! Kain slaan sy broer Abel dood. Noag gaan hom te
buite aan drank en sy eie seun Gam spot met hom en bring ‘n vloek oor
sy nageslag. In Abram se gesin ontstaan ‘n konflik tussen die twee
seuns Ismael en Isak wat nou nog voortduur. Onder Isak se seuns gaan
dit nog erger. Jakob bedrieg sy tweelingbroer Esau. Byna is daar nog ‘n
moord. Die stukkendheid word voortgesit onder Jakob se eie seuns. Josef
word voorgetrek en sy broers haat hom so dat hulle hom wou doodmaak,
maar uiteindelik as slaaf verkoop. Van die een geslag na die volgende is daar ‘n patroon van leuens, voortrekkery, en broederkonflik voortgedra.
Verder aan in die geskiedenis is Dawid se gesin en nageslag ‘n goeie
voorbeeld van stukkende verhoudings. Dit begin met sy owerspel met
Batseba en die moord om dit te probeer toesmeer. Die gevolge is onder
andere bloedskande, broedermoord, opstand en baie ander ellendes...
Hierdie stukkendheid raak ons almal, maar word oor die algemeen baie goed weggesteek. Dis grootliks onsigbaar. Soos ‘n ysberg. Ons sien op die oppervlakte net almal se mooi en goeie kant.
Vriendelike gesigte, kerkklere, mooi maniere en korrekte antwoorde...
Maar binne in huise en huwelike is daar groot smart en ellende. Agter
geslote deure bloei ons... Die grootste skok is dat hierdie dinge gebeur
in die huise van mense wat Christene is. Nie net naamchristene nie,
maar mense wat werklik kan getuig, dat hulle die Here as Verlosser leer
ken het, maar ‘n klomp van hierdie dinge het oorgebly in ons lewens...
JOU OUERHUIS BLY BY JOU
Die grootste invloed op ‘n mens kom uit die gesin waarin jy grootgeword
het. Dit het ‘n effek op mens ook al het jy ‘n Christen geword. (dit
beteken nooit ek mag my ouers dieskuld gee vir my sonde nie, maar dat
hulle foute en gebreke 'n invloed op my hat is onontkenbaar)
Sommer net ‘n paar voorbeelde of ‘n paar vrae om oor te dink: Was daar voortrekkery en onregverdigheid in die huis waarin ek grootgeword het? Was daar traumatiese gebeure of skandes soos ‘n egskeiding, bankrotskap, aborsie, alkoholisme, molestering, buite egtelike verhoudings, gesinsgeweld? Hoe is dit hanteer? Is dit maar net altyd weggesteek? Dit het ‘n effek op wie jy vandag is, al is jy miskien nie eers bewus daarvan nie. Hoe is sukses en prestasie gedefinieer in jou ouerhuis? Was dit in terme van geld? (Kyk hoe gelukkig is daardie mense want hulle bly in so 'n huis of ry so 'n kar...") Sport? Akademiese prestasie? (Jy is net belangrik in so verre jy presteer) Hoe was die kommunikasie in jou ouerhuis? Is probleme maar net toegesmeer of is dit uitgepraat? Die antwoorde op hierdie vrae raak jou... ook nou miskien na baie jare.
[Die ooglopende fanatieke ywer van sommige ouers dat hulle kinders op sport of akademiese gebied moet presteer en gevolglik tot in die rooi gedruk word, kan dikwels aan hierdie invloede in hulle eie ouerhuise toegeskryf word.]
Sommer net ‘n paar voorbeelde of ‘n paar vrae om oor te dink: Was daar voortrekkery en onregverdigheid in die huis waarin ek grootgeword het? Was daar traumatiese gebeure of skandes soos ‘n egskeiding, bankrotskap, aborsie, alkoholisme, molestering, buite egtelike verhoudings, gesinsgeweld? Hoe is dit hanteer? Is dit maar net altyd weggesteek? Dit het ‘n effek op wie jy vandag is, al is jy miskien nie eers bewus daarvan nie. Hoe is sukses en prestasie gedefinieer in jou ouerhuis? Was dit in terme van geld? (Kyk hoe gelukkig is daardie mense want hulle bly in so 'n huis of ry so 'n kar...") Sport? Akademiese prestasie? (Jy is net belangrik in so verre jy presteer) Hoe was die kommunikasie in jou ouerhuis? Is probleme maar net toegesmeer of is dit uitgepraat? Die antwoorde op hierdie vrae raak jou... ook nou miskien na baie jare.
[Die ooglopende fanatieke ywer van sommige ouers dat hulle kinders op sport of akademiese gebied moet presteer en gevolglik tot in die rooi gedruk word, kan dikwels aan hierdie invloede in hulle eie ouerhuise toegeskryf word.]
Dis duidelik, ons ouers en huisgesinne waarin ons grootgeword het, het ‘n blywende invloed op elkeen van ons.
Hulle het baie goeie dinge gedoen, maar almal het ook baie foute gemaak
wat tot vandag toe nog ‘n invloed op ons het. Stukkende gevolge. As
ons nie heel word nie, word dieselfde sondige patrone en ellendes net
weer so aan die volgende geslag oorgedra en dit word al erger...
Nou wat nou, is daar hoop, kan ons heel word?
Nou wat nou, is daar hoop, kan ons heel word?
NUWE GESIN
Ja, vir God se kinders is daar hoop, want ons word in ‘n nuwe huisgesin
opgeneem. Dis die dramatiese en gewigtige implikasie van Jesus se woorde
in MARKUS 3:30-35. Hoor wat sê Hy : “Hy het die mense
aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my
broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my
moeder." (34,35) As ek wedergebore word, kind van God word, dan word
ek deel van ‘n nuwe gesin, ‘n nuwe familie. Ja, 'n nuwe begin...
Hierdie familie is ‘n nuwe skepping van God. Hierdie nuwe familie is
baie belangrik, dit het prioriteit selfs bo my aardse familie. Dis
duidelik wat Jesus impliseer. Die gemeente van Jesus is die huisgesin van God, dis ons nuwe naaste familie! ( Vergelyk 1 Timoteus 3:15)
En dis binne hierdie familie waar die Here ons wil heelmaak. Ons het almal letsels vanuit ons ouerhuise en opvoeding, maar binne in die gemeente as familie van God word ons nou as’t ware heropgevoed. Scazzero praat van “reparenting”.* Dit maak nie saak wat my agtergrond is nie, die kind van God kan heropgevoed word. Hoe gebeur dit? As
ons eerlik na onsself kyk in die Woord en saam met ander gelowiges die
Woord begin gehoorsaam - dan verander ons en word heel. (eerlikheid is ‘n kernvereiste!!) As ons erns maak met die Bybel (kliek op BLY BY DIE BYBEL
), dan word ons geleer om ou sondige patrone af te lê en te oorwin en
nuwe lewenspatrone aan te leer. (Gaan lees gerus Kolossense 3 om te sien
wat ons moet los en wat ons moet aanlaar...) So word ons geleidelik
verander, so word ons gehoorsaam aan God, so word ons heropgevoed, so
word ons heel! Sonde letsels word heel, sondige denkpatrone word
verander, sondige gewoontes word oorwin, stukkende verhoudings word
herstel... Die Bybel se benaming vir hierdie proses is
heiligmaking. Hierdie proses is natuurlik persoonlik, maar dit vind ook
juis plaas binne die konteks van my nuwe geestelike familie! Hulle
bedien my met die Woord, hulle is geduldig met my, hulle help my op,
hulle wys my foute uit met die gesindheid van Jesus, want almal wat deel
is van Jesus se familie is maar te bewus van hulle eie geestelike
gebrokenheid! Dit kan mos nie anders nie...
Daar is duidelike fasette van Christenskap wat ons moet onderskei:
Vryspraak – volle vergifnis van al my sonde. Niks van my hele verlede word meer teen my gehou nie. Ek staan sonder skuld voor God.
Heiligmaking – die daaglikse proses van verandering volgens God se wil, van heel word in al ons verhoudings.
Moenie moed verloor oor die stukkendheid in jou eie lewe nie! Laat
ons ook geduldig wees met mekaar, want ons almal is deur die sonde
geskend! Jesus het juis gekom om heel te maak, wat Satan gebreek het. Hy
doen dit deur vryspraak en heiligmaking. Hy doen dit deur Sy Woord en
Sy Gees! Hy doen dit binne die huisgesin van God, die gemeente. Hy doen
dit sodat ons ‘n lewe kan leef wat God sal eer!
*Scazzero, The Emotionally Healthy Church
Thursday, March 12, 2015
MARTELARE OP DIE STRAND
- die Egiptiese Christene se getuienis leef voort.
Hier is die Engelse weergawe :
Two rows of men walked the shore
of the sea,
On a day when the world’s tears
would run free,
One a row of assassins, who
thought they did right,
The other of innocents, true sons
of the light,
One holding knives in hands held
high,
The other with hands empty,
defenseless and tied,
One row of slits to conceal glaringdead
eyes,
The other with living eyes raised
to the skies,
One row stood steady, pall-bearers
of death,
The other knelt ready, welcoming
heaven’s breath,
One row spewed wretched,
contemptible threats,
The other spread God-given peace
and rest.
A Question...
Who fears the other?
The row in orange, watching
paradise open?
Or the row in black, with minds
evil and broken?
“I am encouraged” she said, “because now I know that what we have been taught in history books about Egyptian Christians being martyred for their faith is not just history but that there are Christians today who are brave enough to face death rather than deny their Lord! When I saw these young men praying as they were being prepared for execution and then many of them shouting “O Lord Jesus” as their throats were being slit, I realized that the Gospel message can still help us to hold on to the promises of God even when facing death!”
Die tragiese dood van die jong Egiptiese Christen mans wat deur ISIS
islamitiese rebelle langs die see in Libië keelaf gesny is, was nie
tevergeefs nie. Die Egiptiese Bybelgenootskap het 'n publikasie met
gepaste Bybelverse die lig laat sien in hulle reaksie op hierdie
weersinwekkende gebeure. Op die voorblad is 'n aangrypende gedig
gepubliseer.
Hier is die Engelse weergawe :
Two rows of men walked the shore
of the sea,
On a day when the world’s tears
would run free,
One a row of assassins, who
thought they did right,
The other of innocents, true sons
of the light,
One holding knives in hands held
high,
The other with hands empty,
defenseless and tied,
One row of slits to conceal glaringdead
eyes,
The other with living eyes raised
to the skies,
One row stood steady, pall-bearers
of death,
The other knelt ready, welcoming
heaven’s breath,
One row spewed wretched,
contemptible threats,
The other spread God-given peace
and rest.
A Question...
Who fears the other?
The row in orange, watching
paradise open?
Or the row in black, with minds
evil and broken?
Wat
'n ongelooflike voorbeeld van Christelike reaksie in die lig van
uiterste provokasie! Ons wapen is die evangelie van Jesus, maak nie
saak hoe groot die haat en vyandskap teen ons is nie!
'n Jong werkster by die Bybelgenootskap van Egipte se kantore het vertel
hoe dat sy bemoedig is deur dit wat gebeur het? Hoe dan so? Sy vertel :
“I am encouraged” she said, “because now I know that what we have been taught in history books about Egyptian Christians being martyred for their faith is not just history but that there are Christians today who are brave enough to face death rather than deny their Lord! When I saw these young men praying as they were being prepared for execution and then many of them shouting “O Lord Jesus” as their throats were being slit, I realized that the Gospel message can still help us to hold on to the promises of God even when facing death!”
Sleutelwoorde:
Egipte,
Islam,
Islamitiese terroriste,
martelare
Tuesday, March 10, 2015
BELHAR BOEMERANG
- kompromie is nie altyd so ‘n slim uitweg nie.
Die
besluit van die NG leierskap om gemeentes en sinodes te laat stem oor
‘n nuwe voorgestelde Kerkorde Artikel 1 wat voorsiening maak vir die
aanvaarding van die Belhar belydenis as opsionele belydenisskrif is
besig om lelik te boemerang. Belhar beweer om ‘n belydenisskrif van
versoening te wees, maar dis besig om groter verskeurdheid en onmin as
ooit in kerkgeledere te ontketen. Dit verdeel mense wat in hart en
praktyk eintlik saam glo en reeds saamdoen. Die Namibiese sinode was die
eerste om ‘n stokkie voor die kerk se Belharplanne te steek, toe die
vereiste twee derde ja meerderheid nie verkry kon word nie. Dit het
gelei tot ‘n stroom van beskuldigings en verdagmakery deur die
sogenaamde ja stemmers wat baie bedroef was oor die uitslag. Nou het die
Noord Kaapse sinode oorweldigend nee gestem vir die voorgestelde nuwe
artikel 1. Of dit tot ‘n verdere vloedgolf van verwyte sal lei, sal
mens nou maar moet sien...
Ek wil my
nie hier op simplistiese wyse aan ‘n ja of nee kant skaar nie. Ek wil my
wel verstout om te sê dat die hele stemmery eerder nooit moes
plaasgevind het nie!
Kom ek noem ‘n paar redes:
Die voorstel oor Artikel 1 hou nie rekening met die kompleksiteit van die saak nie.
Daar is verskeie redes waarom sommige ja gestem het. Van ‘n diepe
vereenselwiging met Belhar se inhoud aan die eenkant of bloot ‘n
emosionele gebondenheid tot aan die anderkant van “kom ons stem maar ja,
want hulle gaan aanhou hiermee totdat ons almal ja gestem het” (Kwalik
‘n geldige motivering vir die aanvaarding van ‘n belydenisskrif, maar
nietemin...) Daar is ook uiteenlopende redes waarom sommige nee gestem
het. Van aan die eenkant ‘n grondige verskil met sommige formulerings
van Belhar, die emosionele stigma wat daaraan kleef, die gevoel van
dwang wat die kerk se propaganda masjien rondom die saak geskep het, tot
aan die anderkant die wete dat so ‘n kompromis artikel 1 nie vir die
VGK aanvaarbaar sal wees nie. (Daar ook diegene wat Belhar
nie-opsioneel deel wou sien van die kerk se belydenisgrondslag, maar wou
gehad het dat dit gelyk met die ander belydenisskrifte dieselfde status
moes deel.) Daar sou ook diegene kon wees wat vrede het met Belhar as
‘n verklaring, maar nie die status van belydenisskrif daaraan sou wou
toeken nie. En ja, daar is diegene wat ongemak beleef het met die
afdwing van 'n proses en die intense eensydige oorredingsveldtog wat dit
vergesel het... Al hierdie mense is nou in die nee kamp gedwing en word
sommer nou lustig van apartheid en konserwatisme beskuldig.
Mens kry die indruk dat die leierskap ‘n kompromisvoorstel as maklike opsie gekies het om sodoende konfrontasie te vermy.
As dit oor nietige randsake gaan is kompromie seker ‘n goeie ding, maar
as dit oor ‘n wesentlike saak gaan soos die belydenisgrondslag van ‘n
kerk, gaan dit nie werk nie. Die NG kerk raak nou bekend daarvoor dat
wesentlike sake sommer maklik gesystap word. Jy kan mos volgens een AS
besluit glo dat daar iets soos ‘n duiwel bestaan, maar jy hoef dit ook
nie te glo nie... Dit klink my of almal in die kerk nie eers meer seker
is of 'n huwelik eksklusief uit een man en een vrou bestaan nie...
Of ons dit nou wil weet of nie. Belhar is vir baie mense ‘n
emosioneel gelade woord, hetsy positief of negatief. Vir sommige klink
dit na rewolusie en Satan, vir ander is dit amper sinoniem aan
evangelie. Dit gaan nie gou verander nie. Om die saak deur ‘n
demokratiese proses na een of ander kant te dwing gaan gemoedere opjaag.
Ons moet eerder saam dink, saam bid en vanuit die Skrif rigting soek,
sonder die druk van propaganda wat mense net kwaad maak...
Om te stem oor Belhar was die verkeerde opsie.
Spesifiek wat ons eie Namibiese konteks betref moes ons eerder vars en
bietjie uit die boks gedink het. Belhar het immers daar ver in die Kaap
gebeur in ‘n baie anderste konteks al sou daar raakvlakke kon wees. In
ons land verloop die versoeningsproses baie anders as in Suid-Afrika...
Baie Namibiese NG gemeentes het al vir jare lidmate vanuit ander kulture, sonder dat ons Belhar as belydenisskrif onderskryf.
Dit sou natuurlik oneerlik wees om te beweer dat niemand
rassevooroordele het nie (waar sou sulke mense gevind word?), maar die
voorbeelde van hartlike liefdevolle samewerking oor rasse en
kultuurgrense heen is te veel om op te noem. En dis waar van mense wat
ja sowel as nee gestem het... Hierdie positiewe feite word onsigbaar in
die rookwolke van verwyte na die sinode stemming in Windhoek. En dis
ontsettend jammer!
Dit sou eweneens oneerlik of minstens baie naïef wees om te dink dat die
aanvaarding van Belhar as belydenisskrif nou skielik tot eenheid,
liefde en medemenslikheid gaan lei. En mens sou seker kon vra : Ons het
immers die Heilige Skrif, as mense nie aan die Bybel gehoorsaam is nie,
gaan Belhar nou skielik hulle harte verander? En dit in ‘n tyd dat ons
bestaande belydenisskrifte maar weinig bekend is... Sal die Belhar ondersteuners tog ook 'n slag net so opgewonde raak oor ons kosbare Dordtse Leerreëls?
Wat dan? Ek sou wou voorstel dat ons eerder in ‘n openhartige gesprek
saam met ons VGK broers en ander belanghebbendes hoor wat hulle
kwellings en verwagtings is. Vanuit so ‘n gesprek kan ons ‘n eietydse
verklaring afkomstig uit Namibiese bodem maak. As daar dinge is wat ons
nog moet bely, laat ons dit bely, as daar veranderings moet kom, laat
ons onsself daartoe verbind, as ons weer opnuut na ons eie harte moet
kyk, mag ons daarvoor genade vind, as dit selfs nodig is dat ons van
Belhar se gesigspunte moet oorneem, laat ons nederig genoeg daarvoor
wees... As dit nodig is laat ons dit dan op skrif stel in oorleg met
mekaar, maar noem dit dan asseblief met ‘n eie Namibiese naam... Dalk
iets soos die OMBILI (vrede) VERKLARING? Ek vra eintlik maar net dat
ons nie by ‘n naam (Belhar) vashaak nie, maar wesentlik na die saak kyk,
want ek is oortuig dat daar by die verre meerderheid van ons aktiewe
lidmate groot ooreenstemming is oor sake soos die evangelie, liefde,
eenheid in Christus en die belangrikheid van uitreik na mekaar. Tot dan,
laat ons asseblief ophou om mense oor Belhar in kampe te jaag... Ek vra mooi, laat ons tog nie Belhar verhef tot 'n moderne "sjibbolet"* en maatstaf vir liefde en eenheid nie... Die vereiste vir kerklidmaatskap en ware eenheid is geloof in Jesus Christus en Hy alleen!
Saam aan die werk vir Jesus in ons mooi land...
Lees ook OM TE BELHAR OF NIE?
* Sien Rigters 12:6
Sleutelwoorde:
Belhar,
Eenheid,
Namibiese sinode,
Noord Kaap sinode,
Sjibbolet
Subscribe to:
Posts (Atom)
Uitsig van Sharkeiland, Luderitz.
Eerwaarde/ds Leonard se graf. Grondlegger van die NGK in Namibië
Hou moed in Damaraland
Maak 'n verskil
Blydskap in alle omstandighede!
Op pad na Noordoewer (Oranje)
Groei deur die Woord! |
Word Versadig!
Simple template. Powered by Blogger.